18/09/2026
Diegene wat die afgelope 24 uur hier verby gery het, sou sien dat 'n nuwe ossewa sy/haar opwagting gemaak het. Inteendeel, dit staan nog op die sleepwa!
Baie dankie aan Laerskool Sabie Primary vir dié waardevolle geskenk. Ons sal seker maak dat dit nét so goed bewaar word as in die tyd op die skoolterrein.
Ons sal eersdaags op die wa ook aandui van waar dit kom.
Kortliks lui die geskiedenis so:
Die ossewa is in Pietermaritzburg deur 'n Ier gebou (kon dit dalk Merryweather wees?)
In 1905 is die wa gekoop deur SW Burger en na sy plaas Goedgedacht (tussen Lydenburg en Ohrigstad) gebring. Die wa is op die plaas gebruik.
Ná sy dogter, Dorie, se afsterwe, is daar veiling gehou in 1969 en koop Dirk C Grobler die wa vir R20!
Oom Dirk het die wa aan die Long Tom Voortrekkerkommando geskenk, wat dit toe in 1979 op Laerskool Sabie se terrein laat rus het.
In ons land is daar heelwat skole met sulke waens. Ons doen 'n beroep op u: skenk die wa vir ons versameling? Ons sal dit self kom haal, ongeag van waar dit vandaan kom!