09/01/2020
Alles in die lewe bevat maar lees en skryftekens. Soms meer vraagtekens en soms net 'n komma vir asemhaal. Maar verseker was die Blue Room 'n uitroepteken.
Sjoe, groot name het deur ons hekkie geloop...nie net bekende en gerespekteerde kunstenaars nie maar mense wat vriende geword het wat ons geensins anders sou ontmoet het nie.
Ek wil nie eers waag om te begin dankie sê nie, net vir ingeval ek iemand moontlik uitlaat nie. Vir julle almal los ek 'n hoofletter van dankbaarheid.
Ons was 'n handjie vol vrouens wat die ure en ure en ure sonder skroom aangepak het. Ek staan nou nog stom oor julle lojaliteit en onselfsugtigheid. Ons kon nie een sonder die ander nie....ons kom 'n baie verder pad as net die Blue Room en so ken ek ons. Ons lag...ons huil...ons maak planne...ons lag weer so bietjie en dan werk ons. Ons vul mekaar aan soos botter, jam en brood. Nie een van my herrineringe het 'n geldwaarde nie...dit was 'n voorreg! Geld het deur al die baie jare vanself gekom omdat ons die waarde van die lewe buite geld verstaan het. Blue Room was net ons werlverdiende afskeid na al die jare se koue korporatiewe geskarrel.
En toe pak Anje haar tas en vlieg oor 'n groot oseaan. En daar is ons bekendheid met mekaar se dag tot dag eweskielik onbekend. Maar ons is bly vir jou, al mis ons jou elke dag. As ek 'n liedjie kon skryf sou ek jou getoonset het in die mooiste balade...net vir wie jy is - vir my!
En daar staan Ronel, my sussie op soos 'n rots en gun my 'n bietjie rustigheid tussen die gejaag na wind. Hieroor kan ek niks sê behalwe dat jou onselfsugtigheid iets is wat ek graag in 'n bottel wil inlê, soos basaar perskes. As daar 'n teken was vir stille respek het ek dit onderstreep met 'n permanent marker. Daar is net nie meer mense soos jy nie. En daarom is ons storie nog nie klaar nie en gaan ons nog so hoofstuk of twee griffel. Ons het net 'n ander baadjie aangetrek.
Miskien hou ons drie 'n reunie konsert oor 'n jaar of wat...net omdat ons kan!!! En net omdat ons vir mekaar omgee. Miskien in Witbank of New Zeeland of Portugal; maar iewers het 'n konsert ons naam op!
Ons groet in liefde, dankbaarheid en nederigheid! Tot weersiens...
(Gaan drink 'n koffie by Ronel...al is ons werk nou meer korporatief van aard...sy is iemand om te ken).