08/04/2026
Die Hollard Affies Fees is veel meer as net ’n musiekaand — dit is ’n
volledige gesinsuitstappie. Terwyl volwassenes kuier en die musiek
geniet, wag daar ’n wêreld vol pret op die kinders. Op die terrein sal
daar springkastele vir die energieke kleinspan wees, gesigverf vir oud
en jonk, asook ’n fotostrokie-geleentheid waar gesinne saam blywende
herinneringe kan vaslê.
Die Milky Lane-trok sal ook op die terrein wees met roomys en ander
lekkernye. In die kinderlekkergoedsone wag daar boonop lekkers,
koekies, roomys, ysdrankies (“slush puppies”) en nog vele meer.
Die Hollard Affiesfees 2026 word met trots deur Hollard Namibia geborg
en deur WAP aangebied. Kaartjies is by KuduKey en by die skool se
finansieskantoor beskikbaar teen N$100 vir skoolgaande kinders en
N$150 vir volwassenes. 💙🤍💛
Neem asseblief kennis dat geen glas op die terrein toegelaat sal word
nie; slegs plastiekhouers sal toegelaat word. Parkering is by Wanderers
beskikbaar, met addisionele oorloopparkering by die Ramblers
sportgronde. Indien heerlike Namibiese reën vir dié dag voorspel word,
word families aangemoedig om ’n sambreel of gazebo saam te bring.